Tuesday 21 August 2012

Sportmanskap en sport etiket

As jy op die grond is , dan trap hulle jou. As jy staan , dan verneder en skinder hulle oor jou. Die Lions rugby unie se probleme is nie op 'n einde nie . Sportmanskap beteken uitreiking tot jou naaste en nie neem van jou naaste soos nou die geval is nie .

Uitreksel van berig in Beeld 22 Augustus 2012. Lions spelers word alreeds oorwweg deur ander provinsies om "gekoop " of "afgerokkel te word.

Wat het van etiket in sport geword?”

Kevin de Klerk, president van die Goue Leeus Rugbyunie, het gister kalm, dog diep teleurgesteld, met hierdie vraag gereageer op gerugte dat ander unies op van sy spelers se dienste jag wil maak.

Die Lions het verlede week hul status as Super-rugbyspan vir 2013 verloor.

Die Stormers-breier, Allister Coetzee, het vandeesweek in ’n gesprek oor kontraktering geskimp dat hy en ander franchises “sal kyk of Lions-spelers beskikbaar gaan wees”.

Hy het toe verwys na die losskakel Elton Jantjies, wat onder diegene tel “met ’n uitkom-klousule in sy kontrak as die Lions nie in die Super-reeks speel nie”.

De Klerk het in reaksie daarop aan Sport24 gesê dat nagenoeg 98% van die Lions vas gekontrakteer is, maar “dat daar wel een of twee is met sulke klousules”.

Na verneem word, stel ook die Haaie in Jantjies se dienste belang, terwyl die aanvraag na die stut Pat Cilliers skielik ná sy Springbok-buiging van Saterdag wyd uitgekring het.

De Klerk was egter meer gegrief oor die asery na sy spelers as oor die fynere detail in die papierwerk.

“Ek hou regtig baie van Allister, maar ek is absoluut verbaas dat hy nie twee keer gedink het voordat hy so ’n opportunistiese stelling gemaak het nie.

“Waar is die gees van sport en respek tussen ons?

“Wat hier aan die gang is, is nie sport nie.

“Wat met ons gebeur het, was nie ons besluit nie.

“En kan die ander unies nie net vir ’n rukkie uit respek en begrip vir ’n susterunie se moeilike tyd ophou met wat nou aan die gang is nie?

“Ek vra mooi dat hulle net ’n bietjie etiket aan die dag sal lê,” het De Klerk gesê.

Hy was veral vies oor die impak van sulke gerugte op die spelers: “Ons sit nie op ons hande nie. Hier is spelers se toekoms in die gedrang – en dis onregverdig teenoor hulle om nou so in die openbaar na hul beskikbaarheid te verneem.”

Die Leeus se Curriebeker-kaptein, JC Janse van Rensburg, probeer sy spelers intussen gefokus hou.

“Dis nie maklik nie en ons het nie sekerheid oor die toekoms nie. Maar as ’n span het ons vir onsself gesê dat niemand buitendien voor die einde van die Curriebeker-reeks kan skuif na ’n ander unie nie.

“Daarom bly ons fokus om die volgende agt wedstryde, ’n halfeindstryd en die eindstryd te wen. Dis ons hoofdoel om weer die beker te lig.

“Daarmee durf ons hierdie Curriebeker aan, sodat ons aan almal kan wys waartoe ons ondanks hierdie moeilike tye in staat is,” het hy gesê.

No comments:

Post a Comment