Tuesday 14 August 2012

As dit Sneeu , Trou ons

Uitreksel uit berig wat verskyn het in Die Beeld koerant

"As dit weer in Johannesburg sneeu, dan trou ons.”

Só het Monique Joubert haar verloofde, Rui Moca, twee jaar gelede belowe net nadat hy haar gevra het om te trou.

Toe sneeu dit gister. Toe trou hulle. Skielik. En nou is sy mev. Moca.

Dit het gister sommer in al nege provinsie in die land gesneeu, selfs in Limpopo. Volgens Kenosi Machepa van die SA Weerdiens (SAWD), is dit die eerste keer in Suid-Afrika se aangetekende geskiedenis.

Dié sneeutroue was g’n gewone affêre nie. Die paartjie het gister om 18:30 in Jacaranda FM se ateljee getrou.

Monique se sussie, Laurika, het dié radiostasie vertel van haar sussie se destydse belofte aan haar kêrel. Hulle het binne drie uur ’n trourok, ’n pastoor, ’n koek en, les bes, ’n wittebrood gereël.

Pastoor Francois Joubert het die egpaar op die Afternoon Drive op ­Jacaranda FM 94.2 getrou.

Monique se hele gesin was in die ateljee om dié “sneeusprokie” gade te slaan. Rui se gesin het op die internet in Portugal na die hele uitsending geluister.

“Dit is crazy! Ek het nie gedink dit gaan sneeu in Johannesburg nie,” het Monique net ná die troue gesê.

“Dit voel ongelooflik om getroud te wees.”

Dié paartjie van Edenvale aan die Oos-Rand was van plan om in April volgende jaar te trou.

“Maar toe sneeu dit.”

No comments:

Post a Comment